top of page
Search

Op jou vyftigste

Updated: Mar 5, 2023

Ek kon nie wag dat jy gebore word nie. Toe kom jy -vandag 'n halfeeu gelede- ons lewens binne. Almal was gaande oor die onmoontlik-mooi, fris klein boetie van my. Mamma wou jou nie neersit nie en Pa het jou soos 'n trofee rondgedra.

ree

Na 'n rukkie was ek so jaloers op die sagte kombersbondel dat ek jou in my navyblou popstootwaentjie gesit het en besluit het ek gaan jou onder die pruimboom parkeer waar dit koel is en waar hulle jou nie so gou sou kon kry nie, om net weer 'n slag te sien hoe oulik ek dan is. Jy het die popwa kant en wal volgemaak met jou mansmenslyfie. Ek het Anja opdrag gegee om daar by jou te lê en wag sodat niks gebeur terwyl ek my aandag by ons ouers gaan opeis nie.


Toe ek om die hoek verby die appelkoosboom trek, hoor ek jou. Jy het nie gehuil nie, maar so grhhhhurghh gemaak. Skielik was ek heilig bevrees jy sou iets oorkom. Ek het teruggestorm pruimboom toe, reg oor die sandput gespring en langs die waentjie te lande gekom. Daar kyk ek toe in jou gesig in, en jy lag vir my.

Die pruimblare het soos groen vlaggies bo jou kop gewaai en ek was op daardie oomblik ontsettend skaam en verskriklik lief vir jou.


Jy moes verduur dat ek my rokke en kerkhoed vir jou aantrek, ek het vir jou skoolgehou en jou ore gedraai as jy gekla het jy wil nie verder letters leer nie. (Jy was toe amper twee.) Later moes jy sonder keuse in my pophuis intrek en die walglike sop eet wat ek van warm kraanwater en lepels sout "gekook" het wanneer jy speel-speel van jou kantoor af tuisgekom het by die pophuis.


Ek het aangedring om jou perd te wees wanneer ons cowboys en kroeks gespeel het, en in 'n wilde wegjaag-scene jou hele oogbank oopgekap toe ek te na aan die oop venster verby gehardloop het met jou stewige vierjarige lyf op my rug. Ek was oortuig my laaste dag het aangebreek en het jou kop onder die koue kraan gedruk in die badkamer. Jy het tjoepstil deur twee waslappe gebloei.


Maar jy het nie gehuil nie. Jy het my getroos omdat ek kliphard geween het oor jou (en uiteraard my) naderende dood. Daai wond het deur genade van Bo in 'n rekordtyd geset onder die koue waslappe en toe Mamma by die huis kom, het jy gesweer dis niks seer nie. Mamma het besluit om my te laat leef.

Toe jy in standerdses Rod Stewart se Baby Jane bo van die vlagpaal in die vierkant moes sing vir die matrieks, het ek vir almal vertel jy is eintlik 'n verlangse neef. Toe jy elke atletiek rekord breek en die beste losskakel ooit word, het ek jou blitsig teruggekleim as my kleinboetie. Almal was mal oor jou en ek kon in jou ligstraal blink.

Toe jy een aand die liggroen Audi uit die garage gesteel het en ek jou en jou maats uitgevang het, het ons 'n deal gemaak. Ek split nie op jou nie, en jy hou jou mond oor my talle oortredings. Ons het deurlopend baklei oor haarmousse, Crunchies en 'n bruin ring agtergelaat in in die liggeel bad. Maar ons het nooit op mekaar gesplit nie.

 
 
 

Recent Posts

See All
Double take

Taking five in the hospital coffee shop. Staring into my cappuccino, contemplating the frightfully ridiculous traffic home. Wondering...

 
 
 

Comments


© 2023 by Michèle Meyer. Proudly created by centred studio.

bottom of page